Die Nelle
Die Nelle
Die Nelle
Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.



 
HomeHome  PortalPortal  GalleryGallery  Latest imagesLatest images  SearchSearch  RegisterRegister  Log inLog in  
Search
 
 

Display results as :
 
Rechercher Advanced Search
Latest topics
» Passionate photographer
Ons trip verslag Icon_minitimeWed Dec 07, 2016 8:34 am by Admin

» Om in vyf dae te trap Pretoria na Langebaan
Ons trip verslag Icon_minitimeMon Jan 11, 2016 9:48 am by Admin

» Ons trip verslag
Ons trip verslag Icon_minitimeThu Apr 23, 2015 10:46 am by Petri

» 1525km Vanaf Krugersdorp na Langebaan
Ons trip verslag Icon_minitimeThu Sep 18, 2014 9:19 pm by Petri

» Die beplanning
Ons trip verslag Icon_minitimeTue Sep 16, 2014 9:45 pm by Petri

» Kgalagadi April 2014
Ons trip verslag Icon_minitimeTue May 06, 2014 11:40 am by Petri

» 7 tot 10 Jan 2010
Ons trip verslag Icon_minitimeFri Mar 14, 2014 1:03 pm by Admin

» Trip report -Transbaviaans 2010
Ons trip verslag Icon_minitimeWed Aug 18, 2010 5:21 pm by Petri

» Loosing weight is not easy
Ons trip verslag Icon_minitimeWed Jul 28, 2010 1:44 pm by Petri


 

 Ons trip verslag

Go down 
2 posters
AuthorMessage
Admin
Admin
Admin


Posts : 24
Join date : 2009-07-22
Age : 68
Location : Pretoria

Ons trip verslag Empty
PostSubject: Ons trip verslag   Ons trip verslag Icon_minitimeThu Apr 23, 2015 8:44 am

5 Desember 2014
Na meer as 480 dae en vele beplanning sessies en groot uitsien het die dag uiteindelik aangebreek. Ons vertrek so 10h vanaf Centurion. Die Briedenhanns kry die Nelle by die Onestop op pad na Krugersdorp toe en ry die stil paaie deur Wes Transvaal se dorpies, Derby en Koster tot in Zeerust. Kom 14h by Kareespruit game farm aan waar dit n koel 35°C is. Slaap in ‘n lieflike chalet en vir aandete eet ons by Nick's place waar André die bynaam Stompie kry.

6 Desember 2014
Ons vertrek 6h uit Zeerust, en is so net na 8h deur die Skilpadshek grenspos by Lobatse. Alles verloop redelik glad met die grens prosedures en ons spandeer minder as ‘n uur om deur die grenspos te kom. Aan die SA kant besluit die grenspos beamptes André moet sy items verklaar en dit vat so bietjie langer. Die Kalahari Highway is n heel nice pad sonder enige moeilikheid. Kry op n stadium klomp aasvoëls waar hul vreet aan 2 donkies beide kante van die pad. Daar is orals donkies of bokke langs die pad en ons moet gereeld spoed verminder. By Kang gooi ons petrol in en gaan soek ‘n slaghuis. Dis 13h05 en die slaghuis is eintlik toe. Die eienaar Bill Sieberhagen sluit vir ons oop en bied vir ons verskeie keuses van vleis aan. Ons koop heerlike filletsteaks @ 150 pulas vir 2kg. Daarna is dit nog 20km na Kalahari Rest (Ilané se eerste sleep).  Ons slaan op by Impala staanplek, ontspan langs die swembad vir die res van die middag en braai heerlike fillette en pizzabroodjies vir die aand. Hennie breek sy tand op n stukkie appel. Ablusie nie wat wonders nie.

7 Desember 2014
Staan 5h op in die reën en ry 6h. Dit reën kort-kort op die pad; perde, beeste, donkies en bobbejane drink die plassies water op die pad. Kom so teen 10h30 by Charles Hill aan net voor die Botswana/Namibië grenspos en gooi brandstof in met die laaste Pulas. Hulle wil nie André se ou Pulas aanvaar nie en hy leen by Hennie, met die gevolg dat André ongeveer BP145 moet opskeur. Kom aan by Buitepos grenspos, aan Namibië kant, en na al die formaliteite is daar geen hekwag en ons ry net deur. Eet in Gobabis middagete by Wimpy en sien ons 1ste Herero vrouens in volle drag. Teen 14h se kant is ons in Windhoek en ry deur na Monteiro waar ons vir die volgende 2 dae gaan kamp. Elke staanplek het sinkplaat afdakke en ons pas die tent en Bush Lapa onder die afdakkies in. Vanaf so 16h kry ons reën en enige braai wat ons beplan het, reën uit. Maak heerlike broodjies met die vorige aand se fillet in die karavaan agv reën. Gaan slaap baie vroeg, min of meer 21h. Ablusie maar swak – net een stort en toilet vir hele kamp, en jou klere sopnat na die tyd.

8 Desember 2014
André is die enigste een wat sonsopkoms en trop gemsbokke sien terwyl die res van ons rustig slaap. Na ontbyt ry ons winkels toe. André en Hennie ry om ‘n battery te gaan soek en tandarts te gaan besoek. Vrouens en Anrich gaan koop kos, simkaarte en middagete. Besoek die Christuskirche en Onafhanklikheidsmuseum. Gaan na Heroes Acre en klim ±307 trappe. Die aand gaan eet ons by Joe's beer house. Baie interesante plek en baie lekker kos.

9 Desember 2014
Staan 5h op en ry 6h20. Kuier op Otjiwarongo by Janine. Eet so paar km uit die dorp brunch langs die pad. Ons stop om na die Hoba meteoriet te gaan kyk. Die meteoriet is 3 meter breed en bestaan uit 82% yster en 16% nikkel en die res uit verskeie ander elemente. Baie wondervrae ontstaan: hoe groot was hy werklik, hoe ver lê sy stukke versprei, hoe warm was hy toe hy geval het, ens, ens. Ons maak n draai deur Grootfontein waar Hennie sy weermagdae van so 27 jaar gelede beleef het. Van daar ry ons by Tsumeb verby. André draai gou by Tsumeb af om n foto vir Hester te neem waar sy nagmerrie tyd beleef het. Draai af om na die Otjokotomeer te gaan kyk. Die meer is ongeveer 55 meter diep. Dit het ontstaan weens n sinkgat. Hierna vang ons spoed na Namutoni.

Ons bereik uiteindelik die langverwagte Etosha. Ons soek n lekker staanplek wat redelike koelte het. Na kampopslaan sit ons heerlik en ontspan. Ons braai heerlike varktjoppies, en eet broodjies en slaai. Later stap ons na die watergat maar behalwe vir n paar blink ogies sien ons niks. Terug kamp toe gaan ons slaap en ervaar n heerlike bui reën en hoor die jakkalse en hiënas. Ablusie by Namutoni heel ok.

10 Desember 2014
Vanoggend kon ons bietjie later slaap en rustig ontbyt maak. Na ontbyt het ons ‘n draai gaan ry en n Cheetah met twee welpies gesien. Dit is n baie rare gesig in Etosha. Verder sien ons baie kameelperde, rooibokke, springbokke en vele mooi voëls. Mens kan sien Etosha het baie reën ervaar die afgelope ruk en baie van die paaie is net modder. Die voertuie is vol modder na die ryery. Ons was ongeveer 3 ure weg waarna ons terug is kamp toe vir middagete.  Kuier rustig by die kamp tot so 14h uur. Ons stap watergat toe, sit rusitg daar, sien net n ooievaar en maraboes. Stap deur die Namutoni fort en klim tot bo-op die uitkykpunt waarvan mens baie ver kan sien, 360°. Ons ry so na 15h ‘n ent die park in. Sien ongelooflik baie kameelperde, ook gemsbokke, springbokke, rooibokke, zebras, wildebeeste, ‘n wit varkie en sien met die terugkeer ‘n swart renoster en 5 hiënas. Ons kry ook weer reën op die pad. Eet lekker potjie vir aandete.

11 Desember 2014
Ons staan redelik vroeg op met die idee om Halali toe te gaan en terselfde tyd op die pan te gaan ry. Op pad na die pan kry ons redelik baie diere naby Namutoni, maar hoe verder ons ry hoe skaarser word die wild. Om op die pan te ry en die platheid te ervaar laat 'n blywende indruk op ons almal. So plat het niemand al ooit gesien nie. Na die pan ry ons na Halali op 'n pad wat plek-plek onder damme water is en waardeur ons stadig moet ry. By Halali drink ons gou koffie by die restaurant en gaan sit toe by die watergat waar ons middagete eet. Op pad terug na Namutoni kry ons 'n klomp aasvoëls wat in die veld langs die pad sit. Hennie en Ronel kan nie agterkom hoekom nie, totdat André vir hulle sê dat daar 'n hiëna in die bos reg langs ons sit. Vir die eerste keer sien die Briedenhann's die hiëna en dooie springbok. Ons besluit om 'n ruk te sit, totdat 'n vrou verbykom en vertel van 30 leeus wat besig is om te jag op die pan. Ons spring met vaart daar weg, maar kry nie eers 'n leeu se spoor nie. Simpel vroumens! Ons gaan maak ook 'n draai by Klein Namutonie drinkgat maar sien nie veel nie. Terug by die kamp sit ons skaars toe n reënbui uitsak soos wat ons lanklaas gesien het. Dit reën so erg dat die paaie in die kamp onder water is, die Nelle se tent amper op water dryf en die Bush Lapa orals lek. Braai is onmoontlik en ons besluit om Hennie se verjaarsdag van die volgende dag vroeg te gaan vier in die restaurant. Weereens eet ons soos konings teen R180 per kop vir buffet. Teen 22h00 is dit slaaptyd. Net voor almal in die bed klim val 'n boom om, reg langs André se kar. Gelukkig word alles mis geval en geen skade word aangerig. Ons hoor dat dit 53mm gereën het. Ronel is skoon bekommerd dat ons nie son gaan sien in Namibië nie.

12 Desember 2014
Hennie verjaar! Rustig opgestaan en ontbyt. Ons het n draai gery na Klein Namutoni watergat, n paar Damara Dik-Dik gesien, gaan kyk of die dooie springbok nog geëet word, sien n groot lang slang by een van die watergate. Middagete by die kamp. Middag ry ons sirkelroete om die pan, sien hoe dit gereën het vorige aand. Die pan is by plekke vol water. Braai vroegaand, gaan neem sonsondergang af vanaf forttoring en gaan sit by watergat, sien zebras, rooibokkies en kameelperde.

13 Desember 2014
Staan vroeg op, ry net na 7h. Stop by Odangwa en koop kruideniersware. Dis maar ‘n klein dorpie wat redelik sleg en teleurstellend lyk. Pad nogals besig. Opad na Oshakati sien ons hoe dit gereën het, orals langs die pad staan daar water, die bome staan sommer diep in die water. Selfs huise wat in die water gestaan het. Polisievrou by padblokkade sê hul ken nie so baie reën nie, dit het Woensdag en Donderdag hard gereën. Omtrent uit by Oshakati sien ons n lifelike mall en is sommer baie spyt dat ons nie daar kom kruideniers koop het nie.  André gaan koop gougou bacon en Ronel koop Steers hamburgers vir middagete vir almal. Gooi petrol in by Ruacana en gaan kyk na Ruacana waterval, wat n ongelooflike mooi gesig is. Die valle val sterk en ons groet die teerpad. Dis n uitdagende stuk pad, en sommer dadelik 4x4 op teen die bult. Ry kort-kort deur plasse modderwater. Orals deur die droë rivierlope kan mens duidelik sien hoe dit gereën het en hoe sterk die water afgekom het. Ons ry 11ure en kom so 18h uur by Kunene River lodge aan. Dis n stunning plek. Die 60 km grondpad van die Ruacana waterval tot by KRL neem ons so 2 ure om te voltooi. Hennie eet iets en sy reggemaakte tand breek weer. Ons staanplek is reg langs die rivier en ons sit heerlik langs die rivier en braai.

14 Desember 2014
Na 'n laat opstaan maak ons brunch en sit weer in die skaduwee na die rivier en staar. Kort-kort kom kuier 'n likkewaan net om seker te maak ons leef nog. Later besluit ons om op die rivierdek te gaan sit en kyk hoe dit daar lyk. Daars gratis WiFi en dis nie lank nie of almal is op facebook, mail, whatsapp of die internet net om te kyk of die wêreld nog bestaan. Na 'n ligte middag ete gaan ons swembad toe en lê so bietjie in die son. Ons kan egter nie lank in die son bly nie want dit is omtrent 35° en met ‘n hoë humiditeit.  Na so bietjie rondskuif agter die skaduwee aan word dit tyd vir aandete.  Vanaand is dit pasta en mince. Ons wou op sunset cruise gaan, maar teen R310 pp is dit n bietjie rof.  En so sak die son oor die 9de dag van ons vakansie.

Die ablusie is redelik goed, net jammer dat daar nie ‘n buitedeur is nie, want met die lig aan is al wat n vlieënde gogga daarbinne.

15 Desember 2014
Dieselfde as 14 Desember. Anrich se plakkies lê vir n groot deel van die dag in die son, en teen sononder het die plakkies 2 nommers gekrimp van die hitte. Net voor slaaptyd gaan sit ons vir die laaste keer by KRL se WiFi hotspot om laaste boodskappe te stuur en mails te lees. Ons wou nog vir oulaas 'n sundowner drink op die dek, maar ongelukkig is hulle toe. Mêre oggend is dit oppak en na Epupa ry.

16 Desember 2014
Staan rustig op, pak op en ry so 8h45 na Epupa Camp. Ilané voel vrot - maagsiekte. Die eerste stukkie pad langs die rivier tot by Swartbooisdrift is baie mooi maar gaan baie stadig, op en af deur driffies. By Swartbooisdrift draai ons links op die Opuwo pad, en stop by die Dorslandtrekkersmonument. André sien daar klippe met sy neef se oom (Ben van Zyl) se naam op wat van Zyls pas gebou het. Ons sien orals langs die pad Himba villages (gehuggies) met tradisionele Himbas. Ons kom so 13h by Epupa kamp aan. Die kamp is baie mooi, die rivier is baie vol en sterk. Om by die kamp te kom moet ons deur n driffie ry weg van die hoofkamp. Gelukkig spoel die water nie te hoog oor die driffie nie, maar almal wonder wat sal gebeur as die rivier opstoot. Ablusie is oop storte en toilette wat met riete gebou is, sonder enige deur – net n plankie om aan te wys dis beset. Elke staanplek het sy eie ablusie geriewe en die water word warm gemaak met ‘n donkie. Dit word baie skoon gehou en baie primitief maar tog baie nice. En toe word ons dors…ons drink lekker koeldrank by die Lodge se ontvangs en gaan koop Pao broodjies by n gehuggie in Epupa village @R3 elk. Ons braai reg langs die rivier en eet ons eie KFC burgers.

17 Desember 2014
Ons eet 'n rustige ontbyt en gaan kyk daarna na die valle. Met ons aankoms sien ons die skeur met die water wat daaroor tuimel. Soos wat ons egter verder kyk, sien mens nog verskeie valle - dis eintlik asemrowend. Almal stap op die rotse rivier af en hoe verder ons stap, hoe meer kom die geheelbeeld van die valle te voorskyn. Ongelooflik om te sien dat die diep skeur eintlik die kleinste deel van die valle is en die grootste deel verberg word deur 'n eiland. Hierna ry ons na die uitkykpunt op die koppie om die valle van bo te sien. Natuurlik teen N$20 per persoon. Dit bly net mooi. Die Nelle gaan terug na die kamp. Die Briedenhann's stop by 'n Himba vlooimark waar Ronel 'n himbapoppie en halssnoer koop. Hulle gaan stap ook deur een van die rivier se sytakke en gaan staan reg by die diep skeur om na die water te kyk. Die kinders staan vir 'n foto en word sopnat gemaak deur die sproei. En toe word ons dors…Oppad terug na die kamp stop ons by die kroeg om iets te drink. Die Nelle het ook toe daar vasgehak en het n warm brood by die lodge gekoop en ons almal is sommer met vingers die brood in. Dit dien toe sommer ook as middagete met koue wors uit die Nelle yskas. Die res van die middag spandeer ons luilekker by die lodge en drink gereeld om die groot dors te les. Die dag word afgesluit met n heerlike steak braai. Na aandete is dit vroeg bad en slaap.

18 Desember 2014
André jaag ons teen 5h uit die bed om die sonsopkoms oor die valle af te neem. Na baie fotos is André, Ronel, Ilané en Hennie terug by die kamp en ons eet 'n ligte ontbyt. Marieta en Anrich het besluit dit is te vroeg vir hulle enhet by die kamp gebly en laat geslaap. Die karavaan se battery is pap en die word eers met die kar gelaai. Die Nelle besluit hulle gaan 'n draai ry om die yskas battery te laai. Met die batterye gelaai is dit amper middagete en toe word ons alweer dors…almal gaan lodge toe vir iets koels om te drink en ook om al die ander nodige tegnologie te laai. Dit is weereens tyd vir n lekker tuisgebakte brood van die lodge met ons eie frikkadelle, koue varknek en kaas.  'n Vyfster middagete. Die res van die middag hang ons net rond by die lodge en word slegter, en maak ons weer 'n goeie bydrae tot die ekonomie van Epupa met ons drankrekening. Ons verskuif ons sit na die kamp.  Vannaand is dit hoender stirfry vir aandete. Môre oggend is dit vroeg opstaan vir die oppak en dan begin die tog na die suide.

19 Desember 2014
Na 'n vroeg opstaan ry ons net na 8h op pad na Opuwo. Ons ry rustig en kom so teen die middel van die dag aan by Opuwo. Die eerste stop is OK om kos en koeldrank te koop. Dis die laaste behoorlike dorp (met varke in die hoofstraat) waar ons voorraad kan koop voor ons Palmwag en Spitzkoppe besoek. Na die inkopies ry ons na Opuwo Country Lodge en is verstom oor hoe mooi die lodge is. Veral die kinders is baie verras. Ons word vertel dat ons die vorige dag reeds daar moes wees, maar kamp in elk geval. Iets moes fout gegaan het met Hennie se mail en datums met die bespreking. Die middag spandeer ons in en om die swembad - wat 'n uitsig het sonder vergelyke. En natuurlik word ons alweer dors en kry iets kouds om te drink. Aandete word geniet in die restaurant waar ons weer heerlik eet. Na ete is ons terug kamp toe en dis tyd vir bad en slaap. Ablusie heel ok met genoeg storte en toilette – steeds nie plek om klere neer te sit en ook nie buitedeur nie.

20 Desember 2014
Net na 8h vertrek ons na Palmwag. Op pad kry ons ' n paar reisigers wat sukkel om teen ‘n redelike steil bult op te kom met hulle voertuie en waentjies. Sesfontein en Fort Sesfontein is volgende op die lys van plekke wat ons besoek. En toe word ons dors…Koeldrank word gedrink by die fort en toe is dit reguit Palmwag toe. Ons boek in by Palmwag en eet onmiddelik middagete toe ons by ons staanplek aankom. Daarna gaan maak ons weer 'n draai by die swembad om af te koel en iets te drink. Aandete is pap, sous, wors en lasagna. Die ablusieblok is gebou uit 'n grasdak en rietkante, met 'n oop uitsig oor Palmwag se fonteine - geen vensters of deure om enige uitsig te beperk. Laataand is dit maar die gewone stort om die stof af te kry en slaap. Daar is ook nuwe ablusie bloke met baie mooi storte en toilette. En weereens het ons nog gewerk aan ons sit tegniek. Een van die dae het ons "sit" vervolmaak.

21 Desember 2014
Ons word wakker met n bespiegeling watter geluid ons wakker gehou het vroeg oggend. Hennie reken eers dit was n bok en later verander dat dit n luiperd kon wees omdat hulle in Kgalagadi dieselfde geluid gehoor het en toe ‘n luiperd gesien het. Wel, ons weet nou nog nie wat dit was nie. Later speel Hennie ‘n CD opname van ‘n Luiperd en dis presies die klank wat ons gehoor het.
Weereens is ons baie vroeg uit die vere om die pad te vat na Spitzkoppe. Ons plan was om vandag eers die Versteende woud, dan Twyfelfontein, orrelpype en gebrande berg te besoek en daarna ‘n droë rivierloop te ry, ongeveer 10km. Maar wat n dag!!! André bly voel die Cruiser sweef oor die pad en dat daar dalk fout is met die remme. Opad na die versteende woud is daar oral langs die pad selfgeskryfde borde wat die versteende woud aandui. Wil ons die 60km draai ry na die gemerkte een, en tog besluit ons om na die bekende een te gaan. Daar besluit André hy gaan eers na die wiele kyk terwyl die Briedenhann’s die toer doen. Wat n probleem! Die linker voorwiel staan skeef en was op die punt om uit te val. Gelukkig staan ons onder heerlike grasdak parkering, dus kan alle werk in die skadu gedoen word. ‘n Paar parte het heeltemal gedisintegreer (circlip en hub nut). Hennie en gesin ry 45km na Korixas, op die Sondag, en spoor ‘n ou op wat net die onderstel van ‘n stokou Cruiser het, maar met die regte parte steeds op. Gou word die nodige parte afgehaal en omtrent 2 ure later is hulle terug. Na nog ‘n gesukkel om die wiel reg te kry met die “nuwe” parte, is almal na 5 ure weer op die pad. Die plan is om op Uis brandstof, vleis en vars water te kry wat vooraf gereël was. Met ons aankoms in Uis na 16h is alles gesluit. Die eienaar van die garage en winkeltjie (White Lady Service station) word gebel en hy reël blitsig dat sy mense ons kom help. Dis nie lank nie of ons is weer op pad na Spitzkoppe.
Ag neeeeee, 20 km voor Spitzkoppe skryf André ‘n band af. Hennie hulle ry aan om solank kampplek te kry want dit word nou vinnig donker. Vinnig is die wiel omgeruil en is die Nelle weer oppad.
Ons kry n kampplek, maak vuur, braai, eet en gaan slaap. Geen water by kampplek maar darem n short drop toilet wat nie te erg is nie. Oop storte (uittrek gedeelte is oop en dus kan enigiemand jou sien) naby restaurant en ook ekstra toilette naby ontvangs.

22 Desember 2014
André staan vroeg op om die sonsopkoms af te neem. Ons maak ontbyt en ry om die klipboog te besigtig. Klim ook op na die rotsswembad maar ongelukkig is hy leeg. Daarna ry ons om die hele berg. En toe word ons dors, stop by die winkel vir koeldrank en daar kry ons die oulikste 2 mak meerkatjies. Ons het lekker gelag vir die een wat morsdood slaap. Almal wou net die twee goedjies ontvoer. Ons braai en eet heerlik. Die Briedenhanns gaan stort en kom baie luidrugtig terug. Anrich het n nuwe hoogspring rekord opgestel weens n baie groot rooi romanspinnekop by die ablusie blokke. Seker die grillerigste spinnekop nog ooit.

23 Desember 2014
Ons staan weer vroeg op om die pad na Swakop aan te pak via Henties en Kaapkruis en die rob kolonie. Dit was verstommend hoe baie robbe met babatjies daar is. Nov en Des is broei tyd. Hulle skree vreeslik, en dit stink erg ….. orals lê ook kleintjies dood.

Vandaar ry die Nelle na Myl 108 om vriende op te soek en die Briedenhanns ry solank Sophiadale toe en slaan kamp op. Stowwerigheid en erge vlieë pla egter die hele tyd by Sophiadale. Ingeburger ry ons Swakop toe en gaan kyk vir die see, doen ‘n paar inkopies en dan is dit terug kamp toe. Dis nogal koel teen al die vorige warm dae. Laat middag kom die mis oor en die hele plek koel dan baie af, en die mis maak eers laat in die oggende oop. Lekker 5 nagte op een plek wat voorlê.

24 Desember 2014
Vroeg word die Cruiser ingevat Walvisbaai toe om reg gemaak te word. Anrich kry 'n vriend en hulle gaan die dag saam spandeer. Die Briedenhanns tel die Nelle op by die Toyota garage en daarna word Duin 7 geklim. Gelukkig is dit vroegoggend en die sand is nie te warm nie. Na baie sukkel kom almal uitgeput bo-op die duin. Dis vrek hoog! Ons rus so bietjie en met die afgaan gaan dit baie beter en vinniger as met die opgaan. Daar word gou inkopies gedoen wat beteken ons moet terug kamp toe om alles in die yskaste te kry. Na 'n ligte ete is ons terug winkels toe om die laaste Kersinkopies te doen. Ons stap deur die dorp en toe is ons weer Walvisbaai toe om die Cruiser te gaan haal. Aandete is braaivleis en vroeg slaap.

25 Desember 2014
Almal staan rustig op en ons maak 'n lekker bacon en eier ontbyt. Ons deel geskenkies uit en na ontbyt ry ons na Pelican Point by Walvisbaai om ons Kersete daar te gaan hou. Verby die soutwerke sien ons baie flaminke en 1 pelikaan, seker die pelikaan van Pelican Point. Sout in verskillende stadiums van verwerking kan in die panne langs die pad gesien word, met sommige van die panne wat heeltemal pienk is. Die soutpad eindig en nou is dit 4x4 op sagte dik los sand. André laat nie op hom wag nie en ry so kort entjie op die sand, maar val vas. Bande word afgeblaas maar dit help niks, hy sit. Gou word die uitsleeptou uitgehaal en Hennie sleep die Cruiser uit. Dis duidelik dat die Cruiser sy vierwiel aandrywing mis wat nie herstel kon word na die versteende woud episode. Die Nelle besluit om nie verder te gaan nie en om eerder iets te gaan drink in Walvisbaai. Kry niks oop nie en ry weer tot by die flaminke en eet koekies en kaas vir ‘n heerlike Kersdag ete. Nelle ry terug Swakop toe en drink iets en eet die lekkerste apfel strudel by n eg Duitse hotel. Terug kamp toe en vang ‘n lekker middagslapie en uit te rus vir vanaand se eet.
Die Briedenhanns ry so kort stukkie op die sand maar val toe ook vas. Met bande wat nog verder afgeblaas word loop die Disco egter baie lekker op die sand en ry hulle tot by Pelican Point. Op die sand is daar baie dooie robbe en ' n jakkals wat spekvet geëet is aan die dooie robbe. Ons draai by die punt om en stop vir 'n ligte middag ete - Kersete. Na ete ry ons terug en gaan kyk wat gebeur op Langstrand tussen Walvis en Swakop. Sover mens kan sien is daar mense met gazebos op die strand wat Kersdag op die strand geniet. Die wind waai sterk en mens kan nie verstaan hoe die mense dit op die strand kan geniet nie. Terug by die kamp is dit amper tyd om reg te maak vir aandete by Sophiadale se restaurant. Ons eet die aand Kersete, salm vir voorgereg, varkfilette/kingklip vir hoofgereg en cherrymouse/appelice vir nagereg @R250 pp.

26 Desember 2014
Briedenhanns gaan vir trip saam met Living Desert Tours. Die toergids se naam is Grant en ‘n groot groep raserige Duitse toeriste ry saam met Chris as toergids, en ons ry in omgeboude Land Rovers. Chris is eintlik die toerleier terwyl Grant asssisteer. Hy gee vir ons n inligtingsessie op die duin en met prentjies in die sand verduidelik hy hoe die duine en gepaardgaande voedselketting (verduidelik ook van muesli) werk. Eerste sien ons die Dancing White Lady spinnekop, grawe hom uit die sand en die Duitsers duik op die arme spinnekop af en neem fotos. Ons is skoon oorbluf. Daarna sien ons die Legless lizard wat nes ‘n wurm lyk. Dan die Namib Dune Gecko met eendvoete. Hy poseer te pragtig vir die paparatsi. Laastens sien ons ‘n verskeidenheid groot en klein duine sand verkleurmannetjies. Ons word die verskillende kleure sand gewys en verduidelik hoekom die kleure verskil. Hierna is dit 4x4 deur die duine ry om mooi duine landskappe te sien en af te neem. Dit kos R650 per persoon vir die toer, maar was definitief ‘n lewenservaring en beslis die moeite werd. Daarna gaan eet ons 1 pizza by Debonairs en roomys by Milkylane. Ons laat die kar was en kry die Nelle vir ‘n lang aandete by Tiger Reef. Ons eet eers chips en daarna aandete. Tienie en Annetjie Fourie (gewese werkskollega van Hennie by PiLog) sluit by ons aan. Ons sien ook ‘n huweliksaanbod op die strand. Die paartjie land met valskerms en sy sê JA. Ons kyk die sonsondergang en gaan terug kamp toe.

27 Desember 2014
Briedenhanns eet ontbyt by Spur met baie vinnige diens. Daarna gaan hul na Kristal gallery, wat baie interessant is met baie mooi kristalle wat uitgestal word. Spandeer baie tyd by die winkel en koop aandenkings en Hennie & Ronel koop hul kersgeskenks. By Namibia Wildlife Resorts kry ons ‘n permit en ry maanlandskap toe. Weer word ons verstom deur die natuur wat ons begroet. Ilané se plakkies het ook besluit Namibië is n rowwe land, en die gees gegee…sy koop dus dringend nuwe plakkies. Ons is haastig terug om wasgoed te kry teen 18h00. Die Nelle moes weer dringend terug ry na Toyota in Walvis want die wiel wat hulle herstel het, lek olie. Hulle help gou. Terwyl die Nelle in Walvisbaai is soek hulle ook ‘n ekstra spaarband, wat hulle kry teen n astronomiese bedrag van R50. Hulle gaan doen ook sommer die laaste aankope en kry die vleis wat vir die laaste gedeelte van die vakansie benodig word. Ons almal begin weer oppak om môre oggend die pad na Sesriem te vat. Ablusie nie te wonderlik by Sophiadale nie, storte is klein en daar is nie behoorlike pakplek.  Daar is wel eenkant n dubbel stort, wat lekker is maar nogsteeds is jou klere nat.

28 Desember 2014
Ons staan weer vroeg op om gou kamp op te slaan. Nou is dit die lang pad na Sesriem via Solitaire. Stop om die gewilde lekkerny, nl appeltert by Solitaire te eet. Heerlik. Toe André die appeltert op die tafel neersit sak die voëltjies dit toe. Erger as n klomp vlieë. Die laaste stuk pad lê nou voor na Sesriem. Naby die kamp stop die Nelle eers om iemand met ‘n pap band te help. Gou gou is dit reg en kan almal kamp opslaan. Briedenhanns vang n vinnige swem. Hennie braai die heerlikste fillet. Ons eet heerlik. Magies vol en ogies toe. Nou is dit  lekker warm.

29 Desember 2014
Ons staan baaaaie vroeg op om die sonsopkoms oor die duine te kyk. Ag neeee. Alweer ‘n probleem. Die Cruiser se ligte wil nie werk nie, maar André weet presies wat om te doen. Vinnig word die Ducttape uitgehaal!!!!! En daar kon hulle ook teen ‘n verwoede spoed van 120km/u in n 60 zone die duinepad aandurf. Net na die eerste parkeerterrein tref ons dik sand. Vinnig spring ons uit en blaas wiele af. Daar is nie tyd om te mors nie. Voorwaarts. Ry tot by parkering vir die 4x4 voertuie. Die sonsopkoms is pragtig. Baie fotos word geneem. Ons besoek ook die Dooie vlei. Sjoe, dit is mooi. Terug oor die sand by die voertuie maak ons heerlike franse braaibrood met kaas en tamatie. Ons ry terug kamp toe waar dit vreeslik warm is en die wind waai dat die stof so staan. Briedenhanns vang n vinnige swem. André maak lekker potjie en Ronel sit dumplings op. ‘n Heerlike ete.

30 Desember 2014
Min slaap agv bure (jong klomp wat nie tot slaap kom nie. Hennie & Anrich praat met hul so 23h30, waarna hul stiller is maar nogsteeds kuier tot 3h30). Ons, en ander kampeerders, gee hul aan by bestuur en hul kry die trekpas na ‘n ander staanplek…ver van ons. Ons gaan verken hoe lyk die Sesreim Canyon laterig die oggend. En toe word ons dors…gaan eet en drink iets koels by die restaurant/kroeg. Dit is weer verskriklik warm met ‘n sterk wind wat die wêreld vol stof waai. Die karre word onder die boom geparkeer by die staanplek langsaan, maar ons word gevra om die karre weg te vat omdat die staanplek bespreek is.  Met die wegtrek sien André nie ‘n tak wat laag hang nie en ry die Cruiser se agtervenster aan flarde. 'n Totale humour failure vir Marieta. Wat kan ons meer sê???? Onmiddelik word die Ducttape weer nader getrek en word die venster aan die binne en buitekant geplak. Die aand gaan kyk ons sonsondergang op duin 45. Anrich en Ilané klim die duin tot heel bo, terwyl Hennie en Ronel net so kort entjie opgaan. André en Marieta bly onder en sit rustig en aandete eet. Weer word baie fotos geneem. Terug by die kamp is dit oppak want môre is dit vroeg ry. Ablusie hier is goed, geen klagtes.

31 Desember 2014
Vandag is n lang skof na Klein Aus waar ons 3 aande gaan slaap.  Ons eerste stop was by Betta vir koffie en brandstof en toe is ons Duwisib kasteel toe.  Die Nelle gaan nie saam deur kasteel nie aangesien hul alreeds daar was.  Verder spook ons om die pad om te kry.  Aangekom op Klein Aus stop ons by hotel vir iets kouds en ietsie te ete.  Hennie reken hy het die beste sjokolade koek in sy lewe geëet. En ons drink ook heerlike melkskommels. Ons boek in by kamp en slaan kamp op in die bloedige son.  Gelukkig is dit heelwat koeler as op Sossusvlei. Na n lekker braai gaan ons op lodge toe waar ons 2014 totsiens sê.

1 Januarie 2015
Na n lekker nagrus staan almal rustig op in die Nuwe jaar. Ons bak plaatkoekies vir ontbyt. Ry so 11h om wilde perde te gaan kyk op die pad na Luderitz. Ons tel so oor die 100 wilde perde, en sien ook gemsbokke en volstruise. Ons sit n goeie ruk en kyk perde. Kom terug kamp toe, eet middagete by die lodge en ontspan verder. Na aandete kom sit ons weer in die lodge om al die elektroniese speelgoed te laai en te wifi met vriende en familie.

2 Januarie 2015
Kolmanskop en Luderitz is op die besoeklys vir vandag. Na 'n ligte ontbyt val ons in die pad na Kolmanskop. Op pad kry ons mis wat soos 'n muur oor die woestyn strek. Ons sien ook baie wilde perde, gemsbokke, volstruise en springbokke. In Kolmanskop aangekom is ons betyds vir die 9h30 toer waar ons vertel word van die ontstaan en dood van die dorp. Verskeie huise word besoek en ons word gewys hoe ys vervaardig was en hoe dit dan aan die mense uitgedeel was vir hul yskaste. Na die toer stap ons deur verskeie huise en neem baie fotos. Terwyl die Briedenhanns die toer doen, stap die Nelle deur die huise en gaan drink koffie na die tyd. Luderitz is volgende aan die beurt maar ons gaan eet eers iets by die Waterfront. Na ete ry ons deur Luderitz en besoek 'n kerk, Goerke huis en sien verskeie pragtige huise in ou Duitse styl. Die Diaz kruis word ook gesoek maar op pad daarheen val André weer vas in los sand. Weer moet die Landy die Cruiser uit die sand sleep tot groot vermaak en/of ontsteltenis van party. Met die Cruiser uit die sand besluit ons om nie verder te probeer nie en gaan ons terug na Aus. 'n Vinnige besoek aan die perde naby Aus en ons kry van die perde by die uitkykpunt. Hulle is so mak dat ons hulle neuse vryf. Die aand gaan ons weer na die hotel op Aus waar ons iets ligs eet (sjokolade koek, pizza) en daarna is ons terug kamp toe. Ablusie geriewe baie goed – seker nog die beste.

3 Januarie 2015
Daar word vroeg opgestaan want vandag is dit huiswaarts, na Seekasteel vir die Nelle en Hobas by die Visrivier canyon vir die Briedenhanns. By Keetmanshoop groet ons die Nelle en hulle draai suid vir die grenspos en Suid Afrika. Die Briedenhanns hou aan en gaan besoek die Kokerboomwoud en Giants Playground. Beide is indrukwekkend en weereens verstom die natuur ons. Teen so 20h30 laat weet die Nelle hulle is binne 10 minute deur die grenspos en dat hulle veilig aangekom het by Seekasteel. Die Briedenhanns het intussen by 'n paar plekke gestop op pad na Hobas, onder andere by Canon roadhouse. Die kinders weet nie wat is 'n roadhouse en dit moet eers verduidelik word. Hobas is maar 'n stowwerige plek maar ons slaan gou die Miskruier oop en gaan kyk na die Visriviercanyon. Weer is ons verstom om die omvang van die canyon te sien. Terug by die kamp maak ons gou vuur en braai wors. Met die wors gaar, spring ons weer in die kar en ry na die canyon. Daar aangekom eet ons worsbroodjies met die uitsig van die canyon in die agtergrond. Met die son wat sak in die weste neem ons baie fotos van die kranse soos dit verkleur. Sommer net ‘n spesiale aandete so uit die kar se bagasiebak.

4 Januarie 2015

Van hier af is dit net die Briedenhann's

Ons staan lui op en geniet 'n lekker groot ontbyt. Na ontbyt ry ons rustig na Ai-Ais. By Ai-Ais kies ons 'n lekker boom en slaan gou die BL se beddens op. Hennie en Ronel gaan swem in die buitenste swembad en is baie verbaas dat dit verhit word. Die kinders bly by die BL en lê lui-lekker rond, vandag is seker een van die warmste dae met die kwik wat teen 16h nog op 37ºC kuier. Ons kry nog 3 ander BL wat ook hier kamp. Na aandete besluit ons om in die buitense warm swembad te gaan rondlê wat almal lekker afkoel. Ablusie is ok.

5 Januarie 2015
Na 'n lekker laat slaap eet ons bacon en eiers vir ontbyt. Die binneste swembaddens het gister baie aanloklik gelyk en ons lê en swem daar tot na 13h. Dis heelwat koeler binne by die swembaddens as buit. Die middag kry ons weer baie warm en gaan ons weer na die binneste swembaddens. Na die heerlike afkoel in die swembaddens is dit 'n groot skok om uit die spa gebou te gaan en deur die hitte geslaan te word. Volgens die termometer is dit omtrent 42 ºC, en dit 17h. Na aandete gaan vat ons n laasste swem in die binneste swembad wat eintlik al gesluit was, daarna gaan ons slaap want môre begin die terugtog huis toe.

6 Januarie 2015
Ons staan teen 6h op en ry teen 7h. By die Namibië grenspos (Ariamsvlei) gaan dit redelik vinnig en ons wonder waar is die SA grenspos. Na so klompie kilometer kom ons by die SA grenspos (Nakop) waar die formaliteite ook nie lank vat nie. By Kuruman slaap ons by Klipwerf gastehuis en die kinders kan nie wag om op lekker beddens te slaap, en 'n gewone badkamer te hê. Dis n baie mooi en netjiese plek – wat ons weer sal sien.

7 Januarie 2015
Ons staan weer so by 6h op en ry tot by Vryburg vir ontbyt. Na ontbyt is dit huis toe vir die laaste deel. Ons kom so teen 14h veiligen geseënd by die huis.

Inligting

Land Rover Discovery4 TDV6:
Totale Kilometers 8021
Totale Liters 1100.4
Totale Rand (Diesel) R13 189.03
Gemiddelde Km/L 7.3

Land Cruiser 4.5 GX
Syfers te groot om hier in te pas.

NOTA: Fotos sal met die tyd opgesit word.
Back to top Go down
https://maranata-tours.board-directory.net
Petri

Petri


Posts : 19
Join date : 2009-07-23
Age : 67
Location : Thohoyandou

Ons trip verslag Empty
PostSubject: Re: Ons trip verslag   Ons trip verslag Icon_minitimeThu Apr 23, 2015 10:46 am

Very, very nice! Cool
Back to top Go down
http://www.bougainvillalodge.com
 
Ons trip verslag
Back to top 
Page 1 of 1
 Similar topics
-
» Trip report -Transbaviaans 2010

Permissions in this forum:You cannot reply to topics in this forum
Die Nelle :: Ons toere :: Namibie Des 2014-
Jump to: